|
Psalms Chapter88 1 'n Lied, 'n Psalm van die kinders van Korag, Vir die musiekleier; op die wysie van:"Máhalat leannot." 'n Onderwysing van Heman, die Esrahiet. 2 HERE, God van my heil, bedags roep ek, in die nag is dit voor U. 3 Laat my gebed voor u aangesig kom, neig u oor tot my smeking. 4 Want my siel is sat van teëspoede, en my lewe raak aan die doderyk. 5 Ek word gereken by die wat in die kuil neerdaal; ek het geword soos 'n man sonder krag, 6 vrygelaat onder die dooies, soos die wat verslaan is, wat in die graf lê, aan wie U nie meer dink nie, en wat afgesny is van u hand. 7 U het my gesit in die kuil diep daaronder, in duisternisse, in dieptes. 8 U grimmigheid rus op my, en U druk my neer met al u golwe. Sela. 9 U het my bekendes ver van my verwyder, my iets afskuweliks gemaak vir hulle; ek is ingesluit en kan nie uitkom nie. 10 My oog vergaan van ellende. HERE, ek roep U aan die hele dag deur, ek brei my hande na U uit. 11 Kan U aan die dooies 'n wonder doen? Of kan skimme opstaan, kan hulle U loof? Sela. 12 Kan u goedertierenheid vertel word in die graf, u trou in die plek van vertering? 13 Kan u wondermag in die duisternis bekend word en u geregtigheid in die land van vergetelheid? 14 Maar ék, HERE, roep U aan om hulp, en in die môre kom my gebed U tegemoet. 15 HERE, waarom verstoot U my siel, verberg U u aangesig vir my? 16 Van jongs af is ek ellendig en klaar om te sterwe; ek dra u verskrikkinge, ek is radeloos. 17 U toorngloed het oor my gegaan; u verskrikkinge vernietig my; 18 die hele dag omring hulle my soos water, saam omsingel hulle my. 19 U het vriend en metgesel ver van my verwyder; my bekendes is duisternis.
|
|