|
Psalms Chapter53 1 Vir die musiekleier; op die wysie van:"Máhalat." 'n Onderwysing van Dawid. 2 Die dwaas sê in sy hart:Daar is geen God nie! Hulle het sleg gehandel en hul onreg afskuwelik gemaak; daar is niemand wat goed doen nie. 3 God het uit die hemel neergesien op die mensekinders om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. 4 Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie. 5 Het die werkers van ongeregtigheid dan geen kennis nie, wat my volk opeet asof hulle brood eet? Hulle roep God nie aan nie. 6 Dáár het skrik hulle oorweldig sonder dat daar skrik was; want God het die beendere verstrooi van hom wat jou beleër het; jy het hulle beskaamd gemaak, want God het hulle verwerp. 7 Ag, mag die verlossing van Israel uit Sion kom! As God die lot van sy volk verander, dan sal Jakob juig, Israel sal bly wees.
|
|