|
Psalms Chapter47 1 Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. 'n Psalm. 2 Alle volke, klap met die hande; juig tot eer van God met 'n stem van gejubel! 3 Want die HERE, die Allerhoogste, is gedug, 'n groot Koning oor die hele aarde. 4 Hy bring volke onder ons en nasies onder ons voete. 5 Hy kies ons erfdeel vir ons uit, die trots van Jakob wat Hy liefhet. Sela. 6 God vaar op met gejuig, die HERE met basuingeklank. 7 Psalmsing tot eer van God, psalmsing! Psalmsing tot eer van ons Koning, psalmsing! 8 Want God is Koning van die hele aarde; psalmsing met 'n onderwysing. 9 God regeer oor die nasies; God sit op sy heilige troon. 10 Die edeles van die volke het vergader- 'n volk van die God van Abraham; want aan God behoort die skilde van die aarde. Hoog verhewe is Hy!
|
|