|
Psalms Chapter119 1 Alef. Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel. 2 Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek; 3 ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel. 4 U het u bevele gegee om dit trou te onderhou. 5 Ag, was my weë maar vas om u insettinge te onderhou! 6 Dan sal ek nie beskaamd staan as ek op al u gebooie let nie. 7 Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer. 8 Ek sal u insettinge onderhou; verlaat my nie geheel en al nie. 9 Bet. Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord. 10 Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. 11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. 12 Lofwaardig is U, o HERE! Leer my u insettinge! 13 Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond. 14 Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom. 15 Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. 16 Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie. 17 Gimel. Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar. 18 Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet. 19 Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie. 20 My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur. 21 U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal. 22 Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar. 23 Al sit vorste en beraadslaag teen my- u kneg oordink u insettinge. 24 Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne. 25 Dalet. My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord. 26 My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge! 27 Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink. 28 My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord. 29 Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet. 30 Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel. 31 Ek kleef u getuienisse aan; o HERE, maak my nie beskaamd nie! 32 Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart. 33 He. HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar. 34 Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte. 35 Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek 'n behae. 36 Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie. 37 Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë. 38 Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees. 39 Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed. 40 Gewis, ek het 'n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid. 41 Wau. En laat u goedertierenhede oor my kom, o HERE, u heil volgens u belofte, 42 sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord. 43 En onttrek die woord van waarheid nie geheel en al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek. 44 Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd, 45 en in die ruimte wandel, want ek soek u bevele. 46 Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie. 47 En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet, 48 en my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink. 49 Sajin. Gedenk die woord aan u kneg, omdat U my laat hoop het. 50 Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak. 51 Vermeteles het baie met my gespot; van u wet het ek nie afgewyk nie. 52 Ek het gedink, o HERE, aan u oordele van ouds, en ek het my getroos. 53 Toorngloed het my aangegryp vanweë die goddelose wat u wet verlaat. 54 U insettinge was gesange vir my in die huis van my vreemdelingskap. 55 HERE, in die nag het ek gedink aan u Naam, en ek het u wet onderhou. 56 Dit het my deel geword, omdat ek u bevele bewaar het. 57 Get. Die HERE is my deel; ek het gesê dat ek u woorde sal bewaar. 58 Ek het U van ganser harte om genade gesmeek; wees my genadig volgens u belofte. 59 Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse. 60 Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou. 61 Die strikke van die goddelose het my omring; u wet het ek nie vergeet nie. 62 Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge. 63 Ek is 'n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou. 64 HERE, die aarde is vol van u goedertierenheid; leer my u insettinge. 65 Tet. U het goed gedoen aan u kneg, HERE, na u woord. 66 Leer my 'n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie. 67 Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord. 68 U is goed en doen goed; leer my u insettinge. 69 Vermeteles het my leuens toegedig; maar ék bewaar van ganser harte u bevele. 70 Hulle hart is ongevoelig soos vet; maar ék verlustig my in u wet. 71 Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer. 72 Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer. 73 Jod. U hande het my gemaak en my toeberei; maak my verstandig, dat ek u gebooie kan leer. 74 Die wat U vrees, sien my, en hulle is bly; want op u woord wag ek. 75 Ek weet, HERE, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het. 76 Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg. 77 Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging. 78 Laat die vermeteles beskaamd staan, omdat hulle sonder oorsaak my onregverdig behandel het; maar ék oordink u bevele. 79 Laat die wat U vrees, na my terugkeer, en die wat u getuienisse ken. 80 Laat my hart opreg wees in u insettinge, sodat ek nie beskaamd hoef te staan nie. 81 Kaf. My siel smag na u heil; op u woord wag ek. 82 My oë smag na u belofte en sê:Wanneer sal U my vertroos? 83 Want ek het geword soos 'n leersak in die rook; u insettinge het ek nie vergeet nie. 84 Hoeveel sal die dae van u kneg wees? Wanneer sal U gerig oefen onder my vervolgers? 85 Vermeteles het vir my kuile gegrawe, hulle wat nie lewe na u wet nie. 86 Al u gebooie is waarheid; hulle vervolg my sonder oorsaak; help my! 87 Hulle het my amper vernietig op die aarde; maar ék het u bevele nie verlaat nie. 88 Maak my lewend na u goedertierenheid, dat ek die getuienis van u mond kan onderhou. 89 Lamed. Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele. 90 U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde bevestig, en dit bly staan. 91 Volgens u verordeninge bly hulle vandag nog staan, want alle dinge is u knegte. 92 As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende. 93 Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak. 94 Aan U behoort ek:verlos my, want ek soek u bevele. 95 Die goddelose lê en wag op my, om my om te bring; ek gee ag op u getuienisse. 96 Aan alle volmaaktheid het ek 'n einde gesien, maar u gebod is baie wyd. 97 Mem. Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. 98 U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. 99 Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. 100 Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele. 101 Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar. 102 Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want U het my geleer. 103 Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. 104 Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad. 105 Noen. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad. 106 Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordeninge te onderhou. 107 Ek is baie diep neergedruk; HERE, maak my lewend na u woord! 108 Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o HERE, en leer my u verordeninge. 109 My lewe is altyddeur in my hand; nogtans vergeet ek u wet nie. 110 Die goddelose het vir my 'n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie. 111 Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart. 112 Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe. 113 Samek. Twyfelaars haat ek, maar u wet het ek lief. 114 U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek. 115 Gaan weg van my, kwaaddoeners, dat ek die gebooie van my God kan bewaar! 116 Ondersteun my volgens u belofte, dat ek kan lewe; en maak my nie beskaamd vanweë my hoop nie. 117 Steun my, dat ek verlos word; dan sal ek altyddeur op u insettinge let. 118 U verag almal wat van u insettinge afdwaal, want hulle bedrieëry is leuens. 119 U ruim al die goddelose van die aarde weg soos skuim; daarom het ek u getuienisse lief. 120 My vlees sidder van skrik vir U, en ek vrees vir u oordele. 121 Ajin. Ek het reg en geregtigheid gedoen:gee my nie oor aan my verdrukkers nie. 122 Wees borg vir u kneg ten goede; laat vermeteles my nie verdruk nie. 123 My oë smag na u heil en na die belofte van u geregtigheid. 124 Handel met u kneg na u goedertierenheid, en leer my u insettinge. 125 Ek is u kneg; maak my verstandig, dat ek u getuienisse kan ken. 126 Dit is tyd vir die HERE om te handel:hulle het u wet verbreek. 127 Daarom het ek u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud. 128 Daarom hou ek al die bevele aangaande alles vir reg; elke leuenpad haat ek. 129 Pe. U getuienisse is wonderbaar; daarom bewaar my siel hulle. 130 Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig. 131 Ek maak my mond wyd oop en hyg, want na u gebooie verlang ek. 132 Wend U tot my en wees my genadig volgens die reg van die wat u Naam liefhet. 133 Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie. 134 Verlos my van die mens se verdrukking, sodat ek u bevele kan onderhou. 135 Laat u aangesig skyn oor u kneg, en leer my u insettinge. 136 My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie. 137 Sade. HERE, U is regverdig, en reg is u verordeninge. 138 In geregtigheid het U u getuienisse beveel en in louter trou. 139 My ywer verteer my, omdat my teëstanders u woorde vergeet het. 140 U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief. 141 Ek is klein en verag, maar u bevele vergeet ek nie. 142 U geregtigheid is geregtigheid tot in ewigheid, en u wet is waarheid. 143 Benoudheid en angs het my getref, maar u gebooie is my verlustiging. 144 U getuienisse is geregtigheid tot in ewigheid; maak my verstandig, dat ek kan lewe. 145 Kof. Ek het geroep van ganser harte; verhoor my, o HERE! Ek wil u insettinge bewaar. 146 Ek het U aangeroep; verlos my, dat ek u getuienisse kan onderhou. 147 Voor die môreskemering roep ek om hulp; op u woord wag ek. 148 My oë is die nagwake voor om u woord te oordink. 149 Hoor my stem na u goedertierenheid; o HERE, maak my lewend volgens u verordeninge. 150 Hulle kom nader wat skandelike dade najaag, hulle wat ver van u wet af is. 151 U, o HERE, is naby, en al u gebooie is waarheid. 152 Lankal het ek geweet uit u getuienisse dat U hulle vir ewig gegrond het. 153 Resj. Sien my ellende aan en red my, want u wet vergeet ek nie. 154 Verdedig my regsaak en verlos my; maak my lewend volgens u belofte. 155 Die heil is ver van die goddelose, want hulle soek u insettinge nie. 156 HERE, u barmhartighede is menigvuldig; maak my lewend volgens u verordeninge. 157 My vervolgers en my teëstanders is talryk; van u getuienisse wyk ek nie af nie. 158 Ek het diegene gesien wat troueloos handel, en dit het my gewalg dat hulle u woord nie onderhou nie. 159 Aanskou dat ek u bevele liefhet; o HERE, maak my lewend na u goedertierenheid. 160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid. 161 Sin, Sjin. Vorste het my sonder oorsaak vervolg, maar my hart vrees vir u woord. 162 Ek is vrolik oor u belofte soos een wat 'n groot buit vind. 163 Leuens haat ek en het daar 'n afsku van; u wet het ek lief. 164 Ek loof u sewe maal elke dag oor u regverdige verordeninge. 165 Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie. 166 o HERE, ek hoop op u heil, en ek hou u gebooie. 167 My siel onderhou u getuienisse, en ek het hulle baie lief. 168 Ek onderhou u bevele en u getuienisse, want al my weë is voor U. 169 Tau. o HERE, laat my smeking nader kom voor u aangesig; maak my verstandig volgens u woord. 170 Laat my smeking voor u aangesig kom; red my volgens u belofte. 171 My lippe sal lofsange laat uitstroom, want U leer my u insettinge. 172 My tong sal u woord besing, want al u gebooie is geregtigheid. 173 Laat u hand my tot hulp wees, want ek het u bevele verkies. 174 o HERE, ek verlang na u heil, en u wet is my verlustiging. 175 Laat my siel lewe, dat dit U kan loof; en laat u gerigte my help. 176 Ek het gedwaal soos 'n verlore skaap; soek u kneg, want u gebooie vergeet ek nie.
|
|