|
Psalms Chapter6 1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente; met basstem. 'n Psalm van Dawid. 2 o HERE, straf my nie in u toorn nie, en kasty my nie in u grimmigheid nie. 3 Wees my genadig, HERE, want ek is verswak; maak my gesond, HERE, want my gebeente is verskrik. 4 Ja, my siel is baie verskrik; en U, HERE, tot hoe lank? 5 Keer terug, HERE, red my siel; verlos my om u goedertierenheid ontwil. 6 Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk? 7 Ek is moeg van my gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane. 8 My oog het dof geword van verdriet; dit het swak geword vanweë al my teëstanders. 9 Gaan weg van my, al julle werkers van ongeregtigheid, want die HERE het die stem van my geween gehoor. 10 Die HERE het my smeking gehoor; die HERE neem my gebed aan. 11 Al my vyande sal beskaamd staan en baie verskrik word; hulle sal in 'n oomblik beskaamd omdraai.
|
|