|
Psalms Chapter39 1 Vir die musiekleier; vir Jedútun. 'n Psalm van Dawid. 2 Ek het gesê:Ek wil my weë bewaar, sodat ek nie sondig met my tong nie; ek wil my mond in toom hou solank as die goddelose nog voor my is. 3 Ek was stom in stilte, ek het geswyg, ver van die goeie af; maar my smart is aangewakker. 4 My hart het warm geword in my binneste; 'n vuur het ontvlam by my gesug; ek het gespreek met my tong: 5 HERE, maak my einde aan my bekend en wat die maat van my dae is; laat my weet hoe verganklik ek is. 6 Kyk, U het my dae 'n paar handbreedtes gemaak, en my leeftyd is soos niks voor U nie; ja, as pure nietigheid staan elke mens daar! Sela. 7 Waarlik, die mens wandel as skadubeeld rond; ja, hulle woel verniet; hulle stapel op en weet nie wie dit sal insamel nie. 8 En nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op U. 9 Red my van al my oortredinge; maak my nie 'n smaad van die dwaas nie. 10 Ek is stom, ek sal my mond nie oopmaak nie; want U het dit gedoen. 11 Neem u plaag van my weg; ek vergaan vanweë die bestryding van u hand. 12 Tugtig U die mens met strawwe oor die ongeregtigheid, dan laat U sy skoonheid vergaan soos deur 'n mot; ja, elke mens is 'n asemtog! Sela. 13 Hoor, HERE, my gebed, en luister na my hulpgeroep; swyg nie by my trane nie; want ek is 'n vreemdeling by U, 'n bywoner soos al my vaders. 14 Wend u oog van my af, dat ek vrolik kan word voordat ek heengaan en daar nie meer is nie.
|
|