|
Psalms Chapter79 1 'n Psalm van Asaf. o God, heidene het gekom in u erfdeel, hulle het u heilige tempel verontreinig, Jerusalem tot puinhope gemaak. 2 Hulle het die lyke van u knegte aan die voëls van die hemel tot spys gegee, die vlees van u gunsgenote aan die wilde diere van die land. 3 Hulle het húlle bloed rondom Jerusalem soos water uitgegiet sonder dat iemand hulle begrawe. 4 Ons het vir ons bure 'n smaad geword, 'n spot en beskimping vir die wat rondom ons is. 5 Hoe lank, HERE, sal U vir ewig toornig wees, sal u ywer brand soos 'n vuur? 6 Stort u grimmigheid uit oor die heidene wat U nie ken nie, en oor die koninkryke wat u Naam nie aanroep nie. 7 Want hulle het Jakob verteer en sy woning verwoes. 8 Reken ons die ongeregtighede van die voorvaders nie toe nie; laat u barmhartighede ons gou tegemoetkom, want ons is baie swak. 9 Help ons, o God van ons heil, om die eer van u Naam, en red ons en doen versoening oor ons sondes ter wille van u Naam. 10 Waarom sou die heidene sê:Waar is hulle God? Laat voor ons oë onder die heidene bekend word die wraak oor die vergote bloed van u knegte. 11 Laat die gesug van die gevangene voor u aangesig kom; laat die kinders van die dood oorbly na die grootheid van u arm. 12 En vergeld ons bure sewevoudig in hulle skoot die smaad waarmee hulle U, o Here, gesmaad het. 13 En ons, u volk en die skape van u weide, ons sal U vir ewig loof, van geslag tot geslag sal ons u lof vertel.
|
|