|
Psalms Chapter51 1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid, 2 toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het. 3 Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. 4 Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. 5 Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. 6 Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou. 7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. 8 Kyk, U het 'n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend. 9 Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. 10 Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het. 11 Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. 12 Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees. 13 Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. 14 Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur 'n gewillige gees. 15 Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer. 16 Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel. 17 Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig. 18 Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. 19 Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! 20 Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op. 21 Dan sal U 'n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.
|
|