|
Psalms Chapter67 1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. 'n Psalm. 'n Lied. 2 Mag God ons genadig wees en ons seën; mag Hy sy aangesig by ons laat skyn! Sela. 3 Sodat die mense op aarde u weg kan ken, onder al die nasies u heil. 4 Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. 5 Die nasies sal bly wees en jubel, omdat U die volke regverdig oordeel en die nasies op aarde lei. Sela. 6 Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. 7 Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën. 8 God sal ons seën, en al die eindes van die aarde sal Hom vrees.
|
|