|
Psalms Chapter139 1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. 2 U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. 3 U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. 4 Want daar is nog geen woord op my tong nie- of U, HERE, U ken dit geheel en al. 5 U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. 6 Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog:ek kan daar nie by nie. 7 Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? 8 Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! 9 Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, 10 ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou. 11 En as ek sê:Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, 12 dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig. 13 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. 14 Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. 15 My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. 16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe:dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie. 17 Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! 18 Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U. 19 o God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg! 20 Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef- u teëstanders! 21 HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en 'n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? 22 Ek haat hulle met 'n volkome haat; vyande is hulle vir my! 23 Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; 24 en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!
|
|